Hulle sê ‘n suksesvolle man is iemand wat meer geld kan maak was wat enige vrou kan uitgee. ‘n Suksesvolle vrou is iemand wat ‘n suksesvolle man gekry het.
Iemand het eendag gesê dat dit nie saak maak of jy R800, R8000 of R80 000 ‘n maand verdien nie. Jou geld gaan so lank hou as wat die maand lank is. Ek dink die punt is dat mense geld sal uitgee vir solank hulle dit het. Hoe meer hulle het om mee te begin, hoe duurder gaan hulle gemors wees wat hulle koop. En ironies, hoe groter die skuld wat hulle aangaan.
As ‘n mens hulle dus suiwer aan hulle skuld neem, is die sogenaamde ryk mense waarskynlik slegter af as die arm mense. Kan ‘n bate wat op skuld gekoop is, steeds as ‘n bate tel. As ek aan my rekeningkunde terugdink, onthou ek van Bates wat gelyk is aan Eienaarsbelang en Laste. As die Eienaarsbelang 0 is, is Bates gelyk aan laste. Dit is dus niks werd nie.
Daarom salueer ek vandag almal wat binne hulle inkomste lewe. Ek haal my hoed af vir almal wat nie ‘n sent skuld het nie. Ek bedoel nie ‘n huis of karpaaiement nie. Die staande applous gaan aan diegene wat nog geld aan die wat dit nodig het kan uitdeel en self nog iets vir hulle oudag kan bêre. Iemand wat finansieël gevestig is, is iemand wat al die voorafgenoemde kan doen en ‘n noodfonds van 3 maande se salaris kan wys.
Bestaan daar sulke mense? Hulle kry die Herriemerrie toekenning vir Bewonderingswaardig.
Breinvasbrand: In die Merchant of Venice, waarmee sal Antonio Shylock betaal as hy nie op die spesifieke dag die terugbetaling kan maak nie?
Breinlosbrand: Spektrofobie
Wie runnik saam?