Is daar iemand in Suid-Afrika wat nie weet wie loop ingeduikte skoene, sokkies om die enkels en ‘n hemp wat agter uithang nie? Dit is die grootkaptein van die Boksombende. Wat die beste rugbyspeler en bokser is wat ooit gebore is, boonop is hy die ondeunste seun nog. Sy vriende: Rooies, Blikkies en Dawie is nie ver agter nie. Mens moet ook nie van Boesman of Karien – die halwe Boksombende lid – vergeet nie.
En dan is daar mejuffrou Bauman, met haar getroue volgelinge Anna en Lina. Muggie ook, maar sy is nie veronderstel om agter hulle aan te tou skool toe. Hulle is altyd laat vir skool, veral omdat sy eers die blokke voor haar huis moet spring. Mens breek mos nooit ‘n belofde nie, nie eers aan jouself nie. Apie, haar broer en Galpil, die liefdesbelangstelling, is ook altyd naby.
Almal het op een of ander tyd al ‘n Trompieboek gelees. Die reeks van Topsy Smith was al verskeie kere op televisie gewees en daar is ook die liedjie wat menige van ons al kliphard gesing het.
Bettie Naude se Saartjie was dalk meer beperk tot meisies, maar dit het ook al ‘n draai op tv gemaak. Minus natuurlik die trefferliedjie. Ek het ook al boeke gelees waar Trompie en Saartjie mekaar ontmoet, tog kan daar nie 2 onoorwinlike helde in een boek wees nie.
‘n Mens kan amper sê dat die twee Afrikaanse ikone is, legendes op die minste. Ook geen wonder nie. Hulle spog met dieselfde skrywer, MG Smith, ‘n laerskoolhoof van Johannesburg. Ja, Saartjie is deur ‘n man geskryf.
Tipies sal die internet weer baie beperk wees met inligting oor ‘n ou Suid-Afrikaanse skrywer. Smit is op 22 Julie 1914 in Parys gebore. Hy het in die Vrystaat en Pretoria groot geword en het ‘n B.A. graad in Stellenbosch behaal. Hy het in Afrikaans en Engels gespesialiseer. Hy was ook ‘n uitstekende sportman wat veral van boks, atletiek en rugby uitgeblink het. Net soos Trompie.
Verder het hy ‘n Liggaamsopvoeding en ‘n Hoër Onderwys Diploma behaal. Natuurlik was daar vir hom geen ander keuse as om ‘n onderwyser te word nie. Hy het dus kinders geken en geweet wat hulle sal interesseer of pla. Hy het later as hoof van Laerskool Sandringham afgetree. Hy is in 1985 dood.
Glo jy dat Smith regtig die kern van kindwees in sy boeke vasgevang het? Sal jy nog ‘n Trompie of Saartjie boek lees as dit in jou skoot land?
Breinvasbrand: Wat was die Boksombende se roepsein?
Breinlosbrand: Olga was reg met De Burger.
Wie runnik saam?