Is die ANC verhewe bokant die wet?

2 11 2009

Ek dink dit is onnodig om die agtergrond te skets.  Die party se president, wat nou die land se president is, het alles moontlik gedoen om sy dag in die hof te vermy.  Hy het dit natuurlik reggekry.  Die hofsake van Robert McBride en Jackie Selebi is ook reg van die begin af ‘n groot klugspul.

Daar word gereeld geskimp dat die regering hulle voet gaan neersit by die regswese van die land.  Dit kom basies daarop neer dat die howe hulle onafhanklikheid gaan verloor.  Hulle sal nooit weer waag om net skeef na ‘n ANC bestuurslid te kyk nie. 

Shabir Shaik kan dalk (nog) nie openlik beloon word omdat hy alleen in die tjoekie gaan sit het nie.  Dit keer nie vir Mo Shaik om solank namens sy broer die belonings ontvang nie.  Is daar enige ander rede hoekom hy geskik is om die nuwe intelligensie baas te wees?  Dalk omdat hy enige moontlike hande sal kan keer wat nie moet krap waar dit jeuk nie?

Laaste, maar nie die minste nie.  Julius Malema durf nie vir ‘n spoed oortreding afgetrek te word nie.  Iets wat die meeste van ons op een of ander tyd tref, maar meneer Malema bel elke grootkop wat hy ken om te kla.  In plaas daarvan dat hy in sy gesig uitgelag word, moet die verkeersbeamptes hulle optrede regverdig. 

Het ek iewers iets gemis?  Is elke landsburger nie veronderstel om gelyk te wees voor die regsbank nie?  Het regverdigheid oorbodig geraak in Suid-Afrika?  Kan ‘n mens nog die regsbank vertrou?

Breinvasbrand:  Wie het Memoir of Solferino geskryf wat gelei het tot die tot standkoming van die eerste 2 Geneva konvensies?

Breinlosbrand:  Maxie was reg met He-Man.





Wat gebeur?

2 11 2009

Die koerant is vandag vol ou nuus.  Joost het vertel wat almal weet en nog verder gelieg en die Osse het die Curriebeker gewen. 

Spero Patricios van Sandton kon darem sy 2 jarige dogter betyds  red toe hulle sitkamer onverwags oorstroom het.  Water het vermoedelik by die nabygeleë sokkerveld opgedam en ‘n betonmuur omgestoot.  Die beton het die Patriciosse se glasmuur laat breek sodat die water die onderste vlak verswelg het.  Patricios kon met die kind boontoe vlug.

‘n Spanjoel het 2 km kus toe geswem nadat sy eienaars se boot omgeslaan het.   Die ongeluk het in die monding van die Breederivier gebeur.  Die NSRI het eers die gesin gered en behandel en toe vir hond gaan soek.  Hy is toevallig 2 km verder gewaar waar hy by Infanta op die kus gestap het.

Asof die SAPD nie al erg genoeg is nie, wil hulle reserviste nou wys wat is ‘n skrikbewind.  ‘n Polisie egpaar (Heila en Braam Joubert) en ‘n paar reserviste het koppe gestamp op ‘n ongelukstoneel waar Chantelle van den Heever (Heila Joubert se suster) ‘n voetganger raak gery het.  Braam het beweer dat die reserviste nie hulle werk reg doen nie.  Hulle het gesê hy meng in.  Op die ou einde is die Jouberts gearresteer, maar wel ‘n paar uur later weer vry gelaat. 

Die Ou Johannesburg stadsaal is gisteraand afgebrand.  Dit is volgens Media 24.  Jacaranda het weer berig dit is die poskantoor in Rissik straat.  Die oorsaak is nog onbekend.

Ten slotte, Elton John is in die hospitaal opgeneem om vir swaar griep en ‘n bakteriele infeksie behandel te word.