Chariots of fire 005

31 10 2009

Algemene Kennis

  1. Watter universiteit het op ‘n stadium as die Grey Universiteit Kollege bekend gestaan?
  2. Wanneer was die Afrikaanse Weerstand Beweging gestig?
  3. Wat is die naam van Andrew Lloyd Webber se nuwe musiekstuk?
  4. Wat was Saartjie se vriendinne se name?
  5. Wie het die 2009 Curriebeker gewen?

Uilspieel  (Watter een pas nie .  Gee asb ‘n rede vir jou antwoord).

  1. Sefanja, Daniel, Jakobus
  2. Witbank, Mafikeng, Kimberley
  3. Another one bites the dust, Stand-up, We’re the champions
  4. Danny Keough, Nicolas Cage, John Oszajca
  5. Hendrik Potgieter, Paul Kruger, Andries Pretorius

Liedjiepret

 Die spogkok van Kokstad het op haar geur van die week besluit.  ‘n Kombinasie van gemmer, suiker en speserye – alles opgekook in melk.  Sy beplan om daarmee ‘n souttert te maak.  Dit sal dalk weer ‘n wenner by die basaar wees, weereens die bewys dat niemand saam met haar in een pot kan kook nie.  Sy hou van die klein borreltjies wat die mengsel maak.  Dit moet net ‘n treffer wees.  Niemand sal tog Mev Dominee teëgaan nie. 

Nommer kopkrap (gee die vermisde nommers)

 1  4  __  __ 25

Toor met Woorde

  1.  Koterie
  2. _ _ S _ _ R _ _
  3. TATMEETNS – leidraad:  verbond




Laviga en die straatmusikante

30 10 2009

P1050890

Ek het ‘n nuwe stapbaan.  Ek en Tannie Ougat het die tannie-ooms in die hawe gesien.  Hulle staan daar en waai vir die skippies.  Wanneer die skippies terug kom, dan sing hulle vir die mense.  Die mense gee hulle dan baie geld.  Bloues en oranjes.

Ek wou ‘n liedjie saam met die tannie-ooms gesing het.  Hulle het hulle tombolas en dromme gespeel en toe kon ek my liedjie sing.

Laviga en Tannie Ougat

Hulle ry op die see

Hulle kyk na die robbiese

En soek pokkelwyne

As die wind ophou raas

Die mense het toe baie geld gegooi, maatjies.  Ek was toe, toe, TOE onder al die papiere.  Nie eers my hoed se punt het uitgesteek nie.  Tannie Ougat het haar ore toegedruk, maar sy is net lekker jaloers.  Die maatjies wil haar nie betaal om te sing nie.  Die maatjies wou ook nie dat ek verder sing nie.  Hulle het gevertel dat hulle nie nog geld het om my te betaal nie.

Die tannie-ooms wou gehad het dat ek by hulle moet bly.  Hulle sê hulle gaan my soetryk maak.  Ek sal dan die rykste heksie wees wat ek ken.  Die doffels.  Kyk net hulle klere.  Die maatjies gaan dink ek is die ou Perse as ek by hulle sing.  Dan gaan hulle nie meer met my wil speel nie.  Die tannie-ooms lyk amper soos gifappeltjies.  Maar ek weet hulle is nie gifappels nie.  Ek ken tog al die appeltjies se name.

Ek moet gou my liedjie gaan sing. 

Breinvasbrand:  Wie was die uitvinder van die moderne klavier?

Breinlosbrand:  Olga was reg met The well beloved. 





Vrydag nuus

30 10 2009

Rugby is natuurlik die groot nuus van die dag.  Ek stel nie eers regtig belang wie more wen nie.  Dit sal wel gaaf wees as die Curriebeker nie Bloem toe gaan nie.  Ons almal weet moes die beste span in die land is PRRRROOOOVVVVVVIIIIIINNNNCCCCEEEE!!!!

Die rowers is terug in nog ‘n episode.  In Silverton het hulle Jurie Wessels eers gesteek en met traangas aangeval voordat hulle die onderneming aan die brand gesteek het.  Hulle het niks gekry nie, maar het meer as ‘n R1 miljoen se skade veroorsaak.

Leon en Hetta Steyn wat ‘n restaurant in Hendriksdal besit is blykbaar sonder rede met ‘n R5 doodgeskiet.  Hulle is die eienaars van die spoorweg restaurant wat baie gewild onder uitlanders is.  Niks is uit hulle huis vermis nie.  Honde het die spoor gevolg, maar die soektog moes weens ‘n storm uitgestel word.  Natuurlik is al die spore toe daarmee heen. 

Lyk my geregtigheid slaap nie altyd nie.  ‘n Skoolhoof van Volkskool Heidelberg is vir 11 jaar tronk toe gestuur vir die verkragting van ‘n skoolmeisie in 1985 en die onsedelike aanranding op ‘n meisie in 1991.  Kry vir hom.

Net as jy dink jy het al alles gehoor, is Malema skielik in Jansen se kant.  Soos gewoonlik het Malema weer baie praat en niks gesê nie.

‘n Pampoenkleurige liewenbesie is besig om Suid-Afrika te bevuil.  Hulle vreet wat voorkom.  Daar word gevrees dat dit Suid-Afrika se inheemse liewenbesie kan laat uitsterf en die wynbedryf kan benadeel.

En ten slotte:  Hoekom het WP my alweer gedrop.  Die Curriecup smag na Nuweland se rakke.





Ontsnap met ‘n handvol haanvere

29 10 2009

Daar is geen ander dier wat so vermaaklik is as die mens nie. 

Die liedjie – Escape van Rupert Holmes – sit altyd ‘n glimlag op my gesig.  Die man lees die koerant terwyl sy vrou / meisie langs hom slaap.  Hulle is nou al so gewoond aanmekaar, dat hulle in ‘n groef verval het.  In die koerant sien hy dan die advertensie van sy droomvrou.  Hy skryf vir haar en reël ‘n geheime ontmoeting in ‘n kroeg.  En raai wie stap in?  Sy own lovely lady.

Nogal dof, maar ook so oulik.  Daar is seker ‘n verskuilde boodskap daarin.  Dalk dat ‘n mens eerlik jou drome en ideale moet verkondig.  Miskien dat jy nie moet voorgee om iemand anders te wees net om jou maat te beindruk nie. Jy moet waardeer wat jy het.  Dalk is dit net ‘n snaakse situasie wat Holmes wil deel, met geen boodskap hoegenaamd nie.

Hier is wat my kielie van die liedjie.  Die man is dadelik baie ingenome en lief vir sy huidige liefde wanneer hy besef wat gebeur.  Die vrou is halfteleurgesteld, maar tog kan hulle saam daaroor lag.   Die les wat hulle geleer het is dat hulle mekaar nie so goed ken soos wat hulle gedink het nie.

Sit die toneel in die regte lewe.  Wat sal dan gebeur het?  Waarskynlik, soos ek mense ken gaan daar oorlog wees.  Elkeen gaan van hulle eie bydrae vergeet en al die skuld op die ander se skouers pak.  Beskuldigings gaan heen en weer vlieg en die humor gaan heeltemaal verlore gaan. 

Is regte mense meer kinderagtig as fiksionele mense?  Vertel julle my.





Marie Stopes

29 10 2009

Henry Stopes en Charlotte Charmichael Stopes se oudste dogter is op 15 Oktober 1880 in Edinburgh gebore.  Charlotte was ‘n bekende vegter vir vroueregter.  Marie Charmichael Stopes het aanvanklik in haar pa se voetspore gevolg en ‘n B.Sc in plantkunde en aardrykskunde gaan swot.  Van daar het in paleobotanie (plant fossiele gespesialiseer) en het haar PhD in 1904.  Sy het kort daarna die jongste persoon in Britanje geword wat ‘n D.Sc behaal het.

In 1907 is Stopes Japan toe om fossiel plante daar te gaan verken.  Sy het in die tyd ‘n ernstige verhouding met Kenjiro Fujii gehad maar dit het op die ou einde op die rotse geloop.  Sy het ook verskeie dosent posisies beklee. 

Stopes het lewendige belangstelling getoon in politiek en was ‘n lid van die Vroue Vryheidsbeweging.  Haar tweede man, Reginald Gates met wie sy in 1911 getroud was, het niks van die lidmaatskap gehou nie.  Die huwelik is 5 jaar later ontbind omdat dit nooit voltrek is nie.  Ek wonder of Gates toe besef het dat vroue gelyke regte as mans kan geniet.

Stopes het daarna haar veelbesproke boek Married Love geskryf.  Die boek was natuurlik uit die bose uit aangesien sy aangevoer het die huwelik ‘n gelyke venootskap tussen man en vrou moet wees.  Dit was tydens die Eerste Wêreld oorlog vir publikasie voorgelê, maar dit was afgekeur.  Walter Blackie, die uitgewer, het reguit gesê dat die tema hom nie aanstaan nie.  Blykbaar het die oorlog min hubare mans gelos en hy was bang dat hulle deur die boek van ‘n huwelik afgeskrik sal word.  Die boek was eers in 1918 deur ‘n klein maatskappy uitgegee.  Dit was ook in Amerika verban.  Stopes het ook in 1918 met Humphrey Verdon Roe getroud, die man wat braaf genoeg was om haar boek te publiseer. 

In dieselfde tyd het sy in geboortebeperking begin belangstel, nadat sy Magaret Sanger ontmoet het.  Sanger het in die agterbuurte van New York gewerk het.  Sy het dikwels gesien hoe vrouens sterf van tuis-aborsies of hoe hulle lewe geslyt word in armoede met heelwat honger bekkies.  Sy het geboortebeperking artikels in haar eie koerant gepubliseer, maar sy was aangekla vir die publikasie van obskure materiaal.  Sanger het toe na Britanje gevlug.

Stopes het besluit om ‘n geboorte beperking veldtog in Britanje te loots.  Sy het in 1918 die boek Wise Parenthood geskryf, waarin sy breedvoering geboorte beperking verduidelik het.  Sy was nie die eerste met sulke gedagtes nie, maar haar voorgangers het almal in die tronk opgeëindig.  Stopes moes nooit haar sienings in ‘n hof gaan verduidelik nie.  Sy het in 1921 die eerste geboortebeperking kliniek geopen.  In 1925 is die Mother’s Clinic na Sentraal London geskuif, waar dit vandag nog is.  Die kliniek is sterk deur die Kerk van Engeland en die Katolieke Kerk veroordeel. 

Stopes het in 1924 geboorte geskenk aan Henry Stopes-Roe.  Sy het hom nooit toegelaat om fiets te ry nie.  Stopes het ook baie in Eugenics (die “teel” van verbeterde mense) belanggestel.  Sy was ‘n voorstander dat “ongeskikte” ouers gesteriliseer word om hulle swak aanteelmateriaal te verhoed.  Daar word geskimp dat sy Hitler se ideaal van suiwer ras gesteun het.  Sy het eugenics sterk genoeg uitgelewe dat sy haar seun onterf het nadat hy met ‘n vrou getrou het wat bysiende was.  Stopes was bang die eienskap word aan haar kleinkinders oorgedra. 

Stopes het verskeie ander boeke geskryf, insluitende romans en gedigte.  Sy is op 2 Oktober 1958 in Surrey, Engeland dood aan borskanker. 

Marie Stopes se eerste kliniek het stadig maar seker uitgebrei.  In 1978 is die Marie Stopes Internasionaal gestig.  Hulle is vandag in 42 lande bewerksaam en het 24 take in Suid-Afrika.  Hulle spesialiseer in familiebeplanning, wat verskeie voorbehoeding en aborsies insluit. 

Breinvasbrand:  Stopes was die stigter van die Portland Museum.  Watter boek van Thomas Hardy was deur die museum geinspireer?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Grey Kollege.





Nuusbrokkies

29 10 2009

Jaws het in 1975 begin draai en nog steeds is die mense paranoies oor witdoodshaaie.  Die epos oor die monsteragtige haai wat in Mosselbaai geslag is, is darem nie heeltemaal van waarheid ontbloot nie.  Die haai het in die Natalse Haaieraad se nette vas gesit.  Sy is bevry, maar was die volgende dag weer daar aangetref.  Daarna is sy na Mosselbaai geneem waar die disseksie verfilm kon word.

Die Jurie Els saak begin Maandag.  Die hof het toestemming verleen dat Els Klay se dagboeke kan ondersoek onder die toesig van die staat.

Selfs nie eers soldate kan waag om in die donker by vriendinne gaan kuier nie.  ‘n 19 jarige soldaat was Sondagnag op ‘n kerk se stoep herhaaldelik verkrag gewees.  Die verkragter het ook gedreig om haar dood te maak as sy nie sou saamwerk nie. 

En om mee af te sluit:  Masel inentings veroorsaak nie outisme nie.





‘n Ware Suid-Afrikaner Voorbeeld

28 10 2009

Met die aankondiging dat Jonathan Jansen die nuwe rektor van die Vrystaat het ek skaars kennis daarmee gewees.  Kom ek wees reguit, ek het verwag dat die nuwe rektor swart gaan wees.  Ek het verwag dat hy/sy al die regte geluide gaan maak.  Ek het dit gesien om die universiteit te verswart, dit is wat transformasie beteken.  Buitendien is Kovsies nie my universiteit nie, dus kon ek nie regtig omgee nie.

Die eerste paar maande was niks om oor opgewonde te raak nie.  Natuurlik moes hy die verdeling van die koshuise gestop het.  Hoog tyd eintlik, orals anders woon almal al lankal deurmekaar.  Dit is verstommend dat hulle van die vroeë negentigs nog nie die grensmure afgebreek het nie. 

Vlam het ‘n storie of twee van hom onder my aandag gebring.  Skielik moes ek kennis neem.  Die man het ‘n baie interessante uitkyk op die lewe.  Hy erken dat daar mense is wat vir ‘n Suid-Afrika vir almal wil werk.  Hy sien gelykheid vir wat dit is, nie as die onregverdige bevoordeling van swartes nie.

Toe bars die bom.  Hy gee die Reitz 4 ‘n kans op ‘n toekoms.  Die ANC swaai beledigings rond, die jeugliga noem hom ‘n “his master’s voice” en reken dat hy die dood verdien.  Die man staan sy man.  Ek bewonder enige mens wat teen die ANC opstaan.  Na ‘n dare het ek hom ge-epos en vertel dat dat ek sy “guts” bewonder en hom sommer terselfde tyd sterkte toe gewens.  Nie 24 uur later nie, kry ek ‘n bedankingsbrief.  Geteken:  Jonathan.  Die man is boonop nederig.

Dus – vandag haal ek my hoed af vir iemand wat genade kan toon en die moed het om dit te doen.  Iemand wat die boodskap van gelykheid regverdig uitleef.  Iemand wat sy voet neersit en dan kan niemand dit lig nie.

Gesondheid.  Mag hy sterkstaan te midde van die storms.

Breinvasbrand:  Van watter skool was KOVSIES aanvanklik deel gewees in die beginjare (1904)?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Charles Cretors





Nuus – eerder laat as nooit

28 10 2009

Kom ons begin maar met Charlize Theron wat met eier op die gesig rondloop.  Sy het vir ‘n liefdadigheidsfunksie ‘n wêreldbeker pakket en ‘n ontmoeting met Madiba opgeveil wat R280 000 gehaal het.  Sy was nie gelukkig daarmee nie en nadat sy ‘n soen ingesluit het, het ‘n vrou meer as R1 miljoen betaal.  Charlize het haar ‘n oopmondsoen gegee, maar Charlize het geen reg gehad om ‘n ontmoeting met Mandiba op te veil nie.

Ek wou iets mompel oor suur druiwe van die Nelson Mandela stigting, maar netnou word ek ook aangekla dat ek Mandela beledig.  ‘n Man het by Sun City ‘n CD (met beledigende lirieke) tydens ‘n potjiekos kompetisie gespeel het, was gister vir Crimin Injuria in die hof. 

Net toe ek dink Dae van ons Roof is verby, is ‘n 66 jarige boer, Donald Williams met ‘n houtstomp geslaan dat sy arm breek.   Verder is hy met sy eie knipmes in die rug gesteek en sy vrou is met verkragting gedreig.  Die rowers het gevlug met wapens en selfone.

Nog iemand wat aandag soek, is Amor.  Sy het laster sake onder meer teen Yolanda Barnard en Exclusive Books gemaak oor beweringe omtrent haar in Barnard se boek. 

Sizwe Shezi is vir 18 maande tronk toe gestuur en sy lisensie is vir 2 jaar opgeskort omdat hy ‘n rooilig verontagsaam het.  Hy het ook vir die verkeerspolisie weggejaag toe hy daaroor gekonfronteer was. 

En laastens –  die DA het die jeugleier van die ANC in die Vrystaat verkla oor sy uitlating dat Prof Jansen geskiet en doodgemaak moet word omdat hy ‘n rassis is.  Kom weer?  Hoe is ‘n gekleurde ‘n rassis as hy blankes ‘n kans gee?





Sussies met blasies

27 10 2009

DIT IS WEER SULKE TYD!!!!

P1000728

Die jaar wil ek dit so goedkoop as moontlik doen en nogsteeds gatskop.  Dus gaan ek nie die jaar laat t-hempde maak nie.

Wanneer:  Saterdag 28 November

4 km of 16 km:  Ek weet nie, vertel my.  Ek stem vir die 4 km.  Die item met die meeste stemme wen.

Koste:  R100

Waar moet julle dit betaal:  In my rekening.  Hoe vinniger, hoe beter – net die eerste 5000 inskrywings kry ‘n goody bag.

Drag:  Nagklere met pantoffels of hakskoene.

Ons gaan dus ‘n pajama party by Sisters hou.  Die idee is dat elke deelnemer ‘n plakaart maak wat by ons tema in pas.  Bv:  Slaap met jou een oog oop as jou hande jeuk.  Hier is die twis en dit is waarskynlik teen die SWB reels.  Ons hou dit maar as ‘n interne ooreenkoms waaraan jy vrywillig deel kan neem.

Elke deelnemer / gesin / soos julle gemaklik is moet ‘n teddiebeer saambring.  Enige teddiebeer of sagte speelding.  Klein, tweedehands, gewen, gesteel, gekoop – wat ook al.  Na afloop van Sisters gaan ek ‘n teddie kollekte hou en dit skenk aan ‘n organisasie wat berading doen vir misdaadslagoffers.  (Hulle is ‘n wettige organisasie met ‘n fondsinsameling nommer).  Die teddies word gebruik in die terapie van verkragtings slagoffers.  (Die wat in die gees saam stap kan maar hulle teddies pos, ek sal dit ook in die sak gooi.)

Het julle dalk ‘n beter idee?  Wie is in?





Gooi mielies

27 10 2009

Wat is ‘n fliek, sonder popcorn?  Net nie dieselfde nie.  Springmielies maak ‘n slegte fliek draagbaar en ‘n briljante fliek nog beter.  Dit hou jou ook wakker in ‘n vervelige fliek.  Kan ‘n mens ‘n skrywe oor iets so eenvoudig soos springmielies maak?  Ek weet nie, ek gaan in elk geval probeer en dan kan julle oordeel.

Die boorlinge van Amerika het springmielies ontdek.  Volgens hulle word die popgeluid veroorsaak deur ‘n woedende god wat uit die pit ontsnap.  In die groot depressie het springmielie besighede baie goed gedoen, juis omdat dit so goedkoop was.  In die 2de wêreld oorlog was suiker gerantsoeneer, met die gevolg dat mense self nog meer springmielies geëet het. 

Daar is basies twee goed wat veroorsaak dat die mielies kan skiet.  Eerstens bevat elke pit ‘n hoeveelheid natuurlike olie en water.  Dit het tweedens ‘n harde omhulsel wat nie vog maklik laat ontsnap nie en die stysel in die pit is ook hard en saamgepers.  Soos die pit verhit word word die olie en water saamgepersde stoom wat nie kan ontsnap nie.  In die toestand word die stysel gelatienagtig.  Die druk binne die pit word meer tot dit omtrent 180 º C en 930 kPa bereik. 

Die pit bars skielik oop en dus val die druk ook onverwags.  Dit laat die inhoud van die pit skuimerig uitsprei.  Die skuim, wat basies proteien en stysel is koel baie vinnig af in die wit stof wat ons as popcorn ken.  Dit kan twee vorms aanneem.  Skoenlapper wat ‘n onreëlmatige vorm het, maar sagter is en minder doppe het.  Die ander vorm is sampioene, wat soos ‘n sampioen lyk, maar harder is. Dit word meerendeels gebruik om toffie mielies te maak.  Die meeste springmielies sal beide oplewer wanneer jy dit skiet, maar sedert 1998 kry jy die kultivars wat die een of die ander 100% lewer.

Almal wat al springmielies geskiet het, weet dat dit nie altyd pop nie.  Dit word ou vroue (old maids) genoem.  As die temperatuur te vinnig verhoog word, kry ‘n mens pitte wat gedeeltelik geskiet is.  Die die stysel kry nie kans om gelatien te word voordat die pit bars nie.  Te stadige temperatuur verhoging veroorsaak dat die vog in die pit ontsnap.  Die pitte sal dan nie skiet nie.  As die temperatuur reg is, kan dit wees dat die pit te min vog het of dat die omhulsel lek.  Die pitte sal dan ook nie kan bars nie. 

Spingmielies kan gesond wees, mits daar nie te veel geurstowwe of botter bygevoel word nie.  ‘n Matige hoeveelheid springmielies wat vol botter gegooi is, bevat meer vet as spek en eiers, ‘n Big Mac Burger met skyfies en ‘n biefstuk ete. 

Nog iets interessant is dat die boyscouts springmielies verkoop soos wat die girlscouts koekies verkoop. 

Hmm, dalk weet julle nou iets wat julle nooit geweet het julle wou weet nie.

Breinvasbrand:  Wie was die uitvinder van die grootskalse springskieters vir kommersiele gebruik?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Peninna en Hanna