Bedreig: Studente Tradisies

6 09 2011

Studente Raad verkiesing plakkate was nog altyd baie vermaaklik.  Onlangs bevind ek my weer op kampus en dit is toe juis weer verkiesingtyd.  Die een party reken dat dit onregverdig is dat studente die reg om te leer ontneem word weens akademiese uitsluiting.  My kop is te plat om te begryp wat leer help as daar nie akademiese vordering gemaak word nie.  As jy nie goed genoeg is nie, gaan jy jou (en moontlik ander mense) se geld en tyd mors.  Lees ‘n boek as die akademiese vordering jou nie pla nie.

Een van die ander partye onderneem om Panda aanvalle te stop.  Ek het amper kliphard gejuig hieroor.  Hulle reken dat studentesake – en ek wil byvoeg landsake – nie altyd ‘n kwessie van swart en wit is nie.  Vergeet die blerrie kleur en kom by die punt van goed wat vir almal bevorderlik is.

Die een wat my hart aangegryp het, is egter die party wat belowe om vir studente tradisies te baklei.  Jool, Sêrrie en Lentedag is spesifiek genoem.  Ek weet dat ‘n saak is wat enige opregte Tukkie na aan die hart lê en dit is iets waarvoor daar geveg sal word – al belowe die verkiesing plakkate dit nie.  Behalwe nou die waarvan ek met die eerste voorbeeld gepraat het.

Die behoud van tradisies kom nie van gister af nie – dit is al jare lank op die tafel.  En dit is nie bloot ‘n rilstorie nie, ek het byvoorbeeld onlangs gehoor van ‘n Universiteit in die Wes-Kaap wat Jool verban het.  Ek weet ‘n student gaan universiteit toe om hom of haar vir die toekoms te bekwaam.  Die bekwaming gaan nie net oor kennis wat opgedoen word nie.  Jool is die ideale tyd om jou menswees en ander eienskappe vir die arbeidsmark te ontwikkel.  Dit is nie net die gemeenskap wat ly onder die verbod op Jool nie, dit is die studente ook.

Vandag hoor ek terloops dat Lentedag gekanselleer is.  Wel, blykbaar bly die vakansiedag, maar die gewone makitie van die dag is gekanselleer.  Lentedag kom al van die 30′s af en om die gebeure van die dag af te stel is amper hoogverraad.  Soos ek die storie verstaan kon die universiteit nie ‘n dranklisensie vir die dag kry nie.

Ek weet die nuus verheug baie mense – Lentedag het die afgelope paar jaar sinoniem geword met die misbruik van drank.  Dit is egter ‘n handvol studente wat hulle regtig te buite gaan.  Ek weet ook dat daar seker aansienlik gebrom gaan word minagting van tradisies en ek is amper self lus om te gaan betoog.  Tog wonder ek of dit nie ‘n gulde geleentheid vir die studente is om te wys hoe sterk hulle oor tradisie voel nie.

Hou Lentedag, gaan voort met die konserte en partytjie soos die laaste dag op aarde – sonder drank.  Dit is heeltemal moontlik en doenbaar.  Lentedag was aanvanklik ‘n dag vol speletjies en pret, nie ‘n verskoning om te drink nie.  Bring dit terug.  ‘n Dranklisensie kan geweier word, maar drank is nie nodig om pret te hê of uit te hak nie.

Helaas gaan die meeste mense dit nie so sien nie.  En dit is jammer – ‘n tradisie gekanselleer omdat drank nie welkom was nie.

Hoe voel julle?

Breinvasbrand:  In watter jaar het die Universiteitsraad besluit Afrikaans sal die enigste onderrig medium vir die Universiteit van Pretoria wees?

Breinlosbrand:  31 Oktober 2011





Ander Klippe

6 09 2011

Ek dink nie dat enige iemand Jan Taks as ‘n vriend beskou nie.  Nie eers die tyd van die jaar wanneer jy kan terug kry waarmee Jan Taks jou ingeloop het nie.  Dit is nou as jy nie die swernoot is wat hom nog ‘n spul geld skuld nie. 

Die moontlikheid dat jy geld kan terug kry troos net.  Die hartseer saak is die totale bedrag wat jy aan belasting betaal het.  Veral as jy daaraan dink hoe ‘n lekker vakansie jy daarmee kon gekoop het.  Dit kon ‘n skaflike deposito op ‘n redelike kar gewees het of dit kon jou algemene lewenstandaard verhoog het.  Ongelukkig is daar net een manier om minder belasting te betaal en dit is om minder te verdien.  Dit is selfs ‘n meer onaangename idee as om dit te betaal. 

Wat in Suid-Afrika nogal goed kan werk is om meer mense te kry wat vir belasting kwalifiseer.  Die arbeidswetgewing in die land sorg dat dit nie maklik gaan gebeur nie.  Wie wil nou iemand aanstel as dit jou besigheid meer skade as goed gaan doen.  Dit is nou tyd om buite die kissie te dink.  Vergeet van die arme ou wat elke maand ‘n salaris kry, gaan soek ander klippe om bloed uit te tap. 

Ek lees nou die dag ‘n interessante ding.  In Duitsland is prostitusie wettig en dus ook belasbaar.  Maklik genoeg vir die dames wat in bordele werk, maar die vryskut werker op straat is dit ‘n ander storie.  Niemand weet presies wie sy is nie, dus is dit nogal moeilik om ‘n belasting aanslag te laat aflewer.  Die Duitse regering het wel ‘n plan gemaak – ‘n stelsel wat nogal sterk herinner aan “pay as you go.”  Sou jy die aand die strate wil werk, moet jy vooraf jou €6 moet betaal.  Jy kan beboet word as jy werk sonder om vooraf jou belasting te betaal. 

Dit is seker een manier om die belasting basis te vergroot.  Ander maniere is om die goed waarvoor daar geen wil is om dit te stop, ook belasbaar te maak.  Ek dink nou aan korrupsie, blykbaar eerder die reël as die uitsondering.  Die regering keur dit met stilswye toe.  Maak dit aanvaarde praktyk, beter nog, verplig politici om korrup te wees.  Hef dan sommer 95% belasting daarop.  Dit is immers geld uit die staatskoffers waarmee daar sake gedoen word.

Ek weet nie of ‘n mens die staat te veel idees moet gee nie, hulle sukkel nie juis om aan iets te dink om die belastinglas te vererger nie.  Nogtans wil ek die belasting van Tsar Peter I van Rusland noem.  Hy wou sy edelmanne in 1698 netjieser laat uitsien en het toe belasting gehef op almal wat ‘n baard gedra het.  Die gepeupel en kerklui is daarvan gevrywaar.  Het dan belasting vir mense wat onbetaamlik in die openbaar is.  Dit is immers ‘n redelike keuse om behoorlik aan te trek.

Waarop dink julle kan die regering belasting hef – sonder dat die gewone drommels verder moet hoes?

Breinvasbrand:  Voor wanneer moet persoonlike belasting opgawes vanjaar ingedien word?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Donna Summer.





Reis in Tyd

31 08 2011

Ek is oor die algemeen ‘n versigtige mense.  Wel, dalk met tye ‘n bietjie gat oor kop, maar dit is gewoonlik per ongeluk.  Ek het ‘n gesonde skeptisme wat ek deeglik gebruik, maar terselfde tyd weet ek ook dat daar bittermin is wat heeltemal onmoontlik is.  Meestal sal ek my bedenkinge hê, maar tog dit nie heeltemal verwerp nie.

Kom ons neem reis in tyd as ‘n voorbeeld.  Ek het aldrie “Back to the future” al gesien, maar vergewe my dat ek nie verby die fiksie kan sien nie.  Ek kan nie dink dat dit moontlik kan wees om nou regtig self te gaan kyk wat in die geskiedenis gebeur het nie.  Maar ek weet ook dat Albert Einstein ‘n baie slim man was en hy het gedink dat dit moontlik is.  As ‘n mens maar net vinniger as die aarde om sy as kan draai.  As jy dus vinniger as die spoed van lig kan beweeg.  Dit maak tyd reis moontlik, maar niemand kon al die spoed van lig verby steek nie.

Ek het egter agter gekom dat Einstein was dalk net te ingewikkeld met sy teorie.  Dit is baie makliker.  Ek het vanoggend opgestaan en is meer as ‘n dekade terug in tyd.  Net so – en ek het nie eers iets gedoen nie.

My selfoon het die gees gegee.  So eers het ek vanoggend in my malle verstand in verslaap, daar was nie ‘n selfoon wat my kon wakker skud nie.  Vir die eerste in meer as ‘n dekade, is ek nie net ‘n selfoon ver nie.  As iemand my soek, moet hulle my na ‘n landlyn bel.  Wat net kantoorure werk, aangesien ek nie ‘n telefoon by die huis het nie.  Of hulle moet aan my deur kom klop.  Ek is tydens kantoor ure heeltemal afgesny van Facebook.

Die belangrikste nuus kan nie agter my aanhol nie.  Ek gaan nie eers weet as die krag by die huis af is nie en iemand sal my rekeninge kan leegtap sonder dat ek iets wis.  Ek sal nou moet wag voor ek skindernuus kan oordra of om dit wat my interesseer op die internet op te soek.  Ek sal in ‘n tou moet staan en myself moet vermaak sonder ‘n selfoon.

Ek weet dit is veronderstel om bevrydend te wees om sonder ‘n selfoon te wees.  Ek is egter vry genoeg.  Nogtans het die verlies van ‘n selfoon my meer as ‘n dekade terug gesit.  Na ‘n tyd sonder selfone en dit boonop nog sonder om deur tyd te reis.

Die punt wat ek wil maak is dat tyd reis nie noodwendig iets buitengewoon hoef te wees nie.  Die blote verlies van iets of verandering in omgewing is al wat nodig is.  Hoe ver terug sal jy gaan sonder televisie?  Hoe ver terug sonder ‘n motor?  Hoe ver terug sonder ‘n stofsuier of rekenaar?  Jy sal eeue terug wees as jy vinger alleen op ‘n verlate eiland uitspoel.

Dit lyk vanoggend van my dat tegnologie dalk ‘n meting van tyd is.  Is ek reg?

Breinvasbrand:  Waar is Einstein dood?

Breinlosbrand:  Olga was reg met Potchefstroom.





Noem dit wat jy wil, maar dit bly ‘n vlooimark

30 08 2011

Einde Augustus is in Jakarandaland bekend vir die afskop van die Pretoria Skou.  Al word dit deesdae amptelik die Tswane Lentefees genoem gaan dit seker tot lengte van dae bekend te staan as die Pretoria Skou.  ‘n Gebeurtenis wat enige gebore Pretorianer se oë laat blink van opgewondenheid. 

Dit is dalk wat die probleem is, ek is nie ‘n gebore Pretorianer nie en die skou was nog nooit vir my iets om oor huistoe te skryf nie.  Dit is soos Menlyn of steroiede – bedoelende dat jy vroeg die oggend by die een punt kan begin koop tot die deure 9 uur die aand in jou gesig toeklap.  Met alles wat jou hart begeer en ‘n aansienlike spul goed wat jou hart nie geweet het hy / sy begeer nie.  Jy beter met ‘n dik beursie of skoon kredietkaart opdaag – anders mors jy jou tyd.  Boonop moet jy R40 / R50 vir die inkopietog betaal wat nie eers jou parkering van R15 insluit nie.  As jy nou bevoorreg genoeg is om parkering te kry. 

Dit is egter nie net omdat ek ‘n snob is nie.  Baie gebore Pretorianers se opgewondenheid word binne minute vervang met teleurstelling.  Geoordeel daaraan is die skou nie meer wat dit blykbaar op ‘n tyd was nie.  Iemand het dit eenkeer vir my beskryf dat as hy as ‘n klein seuntjie na die skou was, het hy met armsvol promosie materiaal by die huis gekom.  Alles verniet.  Hy het gespeel dat sy tong op die grond hang en hy het goed geëet wat hy net by die skou kon kry.  Hy was een van die wat deur die Skou ontnugter was. 

Ek weet dat die skou blykbaar een van die groot landbou skoue is.  Nie dat gewone lede van die publiek by die Bramane of Simmentalers uitkom nie of opgewonde raak nie.  Te veel mense sal die diere seker ook senuweeagtig maak.  Wat regverdig dan die toegangsgeld?

In ‘n mate laat die Pretoria Skou met aan die Reënboogfees in Piet Retief dink.  Dit is net groter en duurder en hou langer aan.  Dit laat my aan Innibos in Nelspruit dink.  Dit laat my aan Nampo (behalwe dat daar meer trekkers is), of enige een van die landbou skoutjies in die land dink.  Wat ek in elk geval gratis elke Sondag in Hatfield kan kry.  ‘n Vlooimark.  ‘n Plek vol stalletjies met niks wat ‘n winkel met respekte wil aanhou nie.  Behalwe dat van die winkels dalk hulle standaarde laat sak het. 

Dit is seker net nog die mense wat van skou tot skou reis met hulle stalletjies wat nog opgewonde raak daaroor.  Met die ontnugtering dat daar elke jaar minder mense is wat vir die grap val en sweer om nooit weer te kom nie.  Net om tog maar volgende jaar weer daarvoor te val. 

Wat is jou idee van skou?  Was jy al ooit ‘n aanhanger?

Breinvasbrand:  In watter dorp word Aardklop gehou?

Breinlosbrand:  1896





Alternatiewe Kuns

27 08 2011

Dit was seker Shakespeare wat iets gesê het van “Beauty lies in the eyes of the beholder.”  Ek gaan dit seker weer heeltemal uit verband uitruk, maar ek wil dit op kuns van toepassing maak.  Nie noodwendig die goed wat die mens gewoonlik as kuns sien nie.  Dit strek soveel verder as ‘n skildery of ‘n beeld.  Mense kan omtrent liries raak oor elke ding onder die son.  Volgens eie smaak natuurlik.

Neem nou maar modes as ‘n voorbeeld.  In my oë net ‘n spul lap wat klere vorm wat die mens se naakheid te bedek.  Modebewustes sal na hulle harte gryp.  Hulle hef lofliedere aan oor die teksture, kleure, vorm en as ek nog iets uit my duim gaan probeer suig, gaan ek aan die slaap raak. 

Karre is ‘n ander voorbeeld.  Vir baie mense ‘n voorwerp om van punt A na punt B te kom.  Ander beoordeel dit weer in terme van werkverrigting en koste doeltreffendheid.  Dan is daar diegene wat liries raak oor karre.  Hoe alles bymekaar klink, wat die klank van ‘n engin met die beste musiek sal vergelyk en niks anders sal kan raak sien wanneer hulle grootste droom op wiele naby is nie. 

Iets waarvoor ek ‘n waardering kan ontwikkel is klokke – soos in staan horlosies.  Deesdae kan enige mens wat reguit kan saag en boor ‘n staanhorlosie maak.  Mens kry ‘n meganisme amper op elke straat hoek.  Dit maak dit baie meer koste effektief, maar ook maar so vervelig en banaal.  Niks om oor huistoe te skryf nie of moet ek eerder sê om ‘n blog oor te skryf nie. 

Maar daar is tog die opregte klokke.  Die wat met moeite, bloedsweet en trane aanmekaar gesit is en wat geen nut aan ‘n battery nie.  Daar word nie net baie aandag aan die fynste besonderheid van die afwerking gegee nie.  Die presisie van tyd is enige opregte klokmaker se trots. 

Die tyd van staanhorlosies groot genoeg vir ‘n kind om in weg te kruip is seker vir altyd verby.  Die meeste moderne huise het bloot net nie plek vir so ‘n meesterstuk nie.  Toegegee, ‘n staanhorlosie kan ‘n bietjie morbied wees.  ‘n Koekoekhorlosie reg uit die Swartwoud is nie net meer prakties en kunstig nie, maar ook baie meer sjarmant. 

Van kleinsaf het die horlosies met ‘n voëltjie wat die tyd verklik my gefassineer.  Ek was verseker nie die enigste kind nie, maar die fassinasie is steeds daar – al is ek ‘n volle 12 jaar oud.  Daar is natuurlik ook opgradeerde weergawes.  Soos die wat ‘n hele toneel laat afspeel soos Vader tyd aanstap. 

Eendag as ek darem maar groot is – en ryk genoeg vir ‘n hele versameling.  In ‘n huis groot genoeg om daaraan reg te laat geskiet.  Wag, laat ek eerder ophou begeer.

Wat is jou idee van kuns?





Stories is my lewe

16 08 2011

Toe ek ‘n kinder was, was stories ‘n bederf gewees om elke hoek en draai.  Dink byvoorbeeld nou aan Wielie Walie, waar die hoogtepunt van die program die storie was.  Die einde van die dag in die kleuterskool was ook met ‘n storie afgesluit.  Ek dink ons het tot in st 1 elke dag ‘n storie op skool gehoor.  By die huis was daar ook stories in oorvloed.  Ons was lid van die Daan Retief Kinderklub, wat elke maand vir ons onder andere ‘n storieboek gestuur het.  Daar was ander boeke ook gewees – ek dink nou byvoorbeeld aan Diereland wat ons aan Apie en Bobbejaantjie bekend gestel het.  Ek neem aan julle kan sien hoe ek lief geraak het vir lees en dus ook boeke?

Dit is vir my hartseer hoe min oorspronklike Afrikaanse stories daar is.  Ja, mens kry die vertaalde Herman Potgieters, maar dit is heeltemal te donker na my smaak.  Die skrywer self erken dat die sentrale tema die dood is.  Aan die anderkant van die spektrum word die stories so afgewater om die arme bloedjies onnodige trauma te spaar, dat die kinders se intelligensie skoon misgesit word. 

Mens sal of daarmee verlief moet neem (en elke kermis en boekmark gaan stroop vir goeie stories) of doodeenvoudig self moet skryf.  Die laasgenoemde is dalk makliker gesê as gedaan, maar nie ontmoontlik nie.  Verbeelding is tog al wat jou kan keer en wie weet, miskien kan verbeelding ontwikkel word. 

Daarom het ek dit goed gedink om sommer vir die snaaksigheid dit ‘n tag speletjie te maak.  Sien jy kans om jou eie oorspronklike kinderstorie te skryf?  Dit hoef nie vreeslik lank of vreeslik na aan die waarheid te wees nie.  Ek tag dan vir Olga, Sonkind, Klippie, Demoerin en Toortsie om ons met hulle kreatiwiteit te vermaak.  Onthou om die vreugde van kreatiwiteit te versprei. 

Breinvasbrand:  As wie was Bobo voorheen bekend?

Breinlosbrand:  George Fivaz

NS:  My poging sal later verskyn.





Goudstorm

12 08 2011

Die mens was nog altyd gefassineer deur blink goed.  Kyk maar in Kimberley die massiewe gat wat deur mense gegrou was vir net DRIE koekepanne vol diamante uit te grawe.  Aan die een kant wil jy jou klere skeur en in as gaan sit oor die bisarheid van die gat.  Die mors van die aarde lyk so onnodig vir net 3 waentjies diamante.  Maar wanneer ‘n mens ‘n sierdiamant tot perfeksie poleerd sien, is dit ‘n maklike ding om te vergewe.  Ook maar mens, ook maar gierig. 

Blink klippies is mooi, maar om dit in ‘n donker kluis toe te sluit is nogal ‘n sonde.  Die regte skoonheid van ‘n diamant kom van hoe dit met lig speel.  Veral waar ander mense dit kan sien en bewonder.  Die diamant moet kortom in iets geset word waar dit ten beste vertoon kan word.  Hallo goud!  Alleen goed, maar saam met ‘n paar klippies – wonderlik. 

Bileam sal met my moet saamstem, selfs ‘n tweedehandse kar van R599 000 gaan waarskynlik een of ander tyd omtrent waardeloos wees.  Die kanse dat dit met die regte juwele gaan gebeur is maar skraal.  Myne, eiendom en banke (met beleggings) kan dalk nog uit jou besit genasionaliseer word, maar jy kan altyd jou juwele wegsteek as dit nodig is. 

Klippies geset in goud, gaan natuurlik ook net so ver.  Die waarde neem dalk toe oor tyd, maar tipies mens was beter waarde nou gesoek.  Uit met die goud en in met die platinum.  Waar ‘n ring met ‘n diamant waaroor jy wil kwyl, soms ‘n prys by het om jou vinnig terug te bring aarde toe, geld dieselfde nie vir ‘n soortgelyke ring in platinum nie.  Dit is amper soos ‘n waarskywing, moenie vra nie en jy sal nie aan ‘n hartaanval beswyk nie. 

Met die goudprys die week, kom die dag nader dat alle juwele dalk maar net op ‘n afstand bewonder kan word.  Die mense wat hulle klippies in platinum geset het om iets duurder te kry, wonder dalk nou oor hulle wysheid.  Die goud prys het die platinum prys vir ‘n rukkie selfs verby gesteek.  Dit terwyl Platinum op van sy hoogste vlakke is.  Geen rede om jou neus daarvoor op te trek nie. 

Die harde feite is dat alles wat opgaan, een of ander tyd moet af kom.  Die mens se vindingrykheid het al menige mense biljoenêrs gemaak.  Tog hardloop mense keer op keer terug goud toe met die geringste onsekerheid in die mark.  So al val goud se prys, bly dit ‘n veilige belegging, mits jy nie aandele in ‘n goudmyn het nie.  Die goudstorm sal seker nooit einde kry nie.

Soos ek die storie verstaan is ons geld gekoppel aan die hoeveelheid goud wat in die Reserwe Bank bewaar word.  Dit is dan ook blykbaar waar Amerika se probleme begin het, hulle het nie goud gehad teen wat hulle dollars gekoppel was nie. 

Ek wonder nou of Gold Reef City jou nog steeds die goue baksteen gee as jy dit met een hand kan optel.  Ek moet dalk gaan oefen.

Breinvasbrand:  Hoe suiwer is 22 karat goud?

Breinlosbrand: Demoerin was reg met Orestes.








Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 133 other followers